Berg Springbok wag
2012-02-08 07:48
Pretoria – Daar is niks wat hy nog nie gevra is nie, sê die Springbokrugbyspan se nuwe afrigter, Heyneke Meyer.
Dis skuins voor 09:00, vyf dae nadat hy aangestel is.
Meyer het pas in die gang buite die koffiewinkel met ’n Nieu-Seelandse radiostasie gepraat. Nou skuif hy reg vir onderhoud 6 van die dag, een van by die 40 vir die week.
“Hierdie was vir my oorweldigend gewees,” sê Meyer. “Jy kry steun van oor die hele land en oor alle bevolkingsgroepe. Dit het vir my net rêrig weer gewys wat die Springbokspan vir mense beteken.”
Benewens joernaliste wat toustaan om met dié 44-jarige Pretorianer te gesels, herken pompjoggies hom en het ’n besemverkoper Meyer op straat omhels.
“Die mense is so opgewonde oor die Springbokspan en dit laat ’n mens klein voel – jy besef jy het ’n groot verantwoordelikheid...
“Daar is dinge in die land wat miskien nie altyd reg is nie, maar ek is baie lief vir my land en ek hoop ek kan deur rugby ’n verskil maak.”
Hy is lief vir die héle Suid-Afrika, sê die voormalige Blou Bul-afrigter wat tussen 2003 en 2007 ongekende sukses by die Ligbloues gehaal het.
“Ek is ’n Laevelder, ek is maar ’n seun van die platteland. Toe ek stad toe gegaan het, was dit vir my ’n groot aanpassing. Want ek is lief vir die natuur – dis wat min mense nog eintlik geskryf het – lief vir die wildtuin, omdat ek van Nelspruit af kom.”
Hy het grootgeword op ’n kleinhoewe buite die stad waar sy gesin perde kon aanhou. Later het Meyer ook ’n draai by die Stormers in Kaapstad en die SWD Arende op George gemaak.
“Die Pretorianers het aan die begin gedink ek is van die Kaap af. En nou dat ek so lank hier is, dink almal ek is net ’n Blou Bul,” sê hy.
Slegs Meyer se oë is vandag blou. Hy dra sy nuwe “uniform”: ’n wit kraaghemp en lang, swart broek met die das wat groen en goud oor sy bors streep.
Van moegheid sien ’n mens nie ’n sweem nie, al glo hy in ’n 12 uur-werkdag. Meyer krap behulpsaam kop om stories te vertel waarvan hy dink min mense weet.
Soos sy eerste smakie as afrigter van Mopanie-manskoshuis se o.20-rugbyspan. Hy was toe net ’n jaar ouer as die span, self ’n Tukkie-student met menslike bewegingskunde en sielkunde as hoofvakke, spesifiek gekies met die oog op afrigting.
“Ek onthou toe ek die kleedkamer inkom, het die ouens daar gesit en rook en alles,” vertel hy. “Toe sê ek: Luister, julle verstaan nie – ek sal dit doen, maar ons doen dit professioneel of glad nie.”
Meyer het ’n spanbestuurder aangestel, die span pasta in Hatfield laat eet voor wedstryde (“dan loop hulle, dan moet ek die rekening betaal!”) en sy pa se kombi geleen om op toere te gaan.
Die span was vir omtrent drie jaar onoorwonne. “Dis waar ek die meeste geleer het van rugby – jy het nie ouens nie en jy moet ouens maak,” sê hy. “Dit was van my beste tye.”
Op dié manier het Meyer se naam destyds vir die eerste keer in die koerant verskyn, hier rondom 1988. Hy het die berig trots vir sy toekomstige vrou, Linda, gewys. Hulle is al saam vandat sy in st. 8 en hy in st. 9 was.
“Toe sê sy vir my ’n waar ding – ek weet nie of dit profeties was of wat nie, (want) ek dink nie so diep nie. Sy het gesê: ‘Maar kyk net die bladsy langsaan, daar is moordenaars en boewe ook in die koerant.’
“Dit was vir my ’n rêrige goeie aanduiding, dat jy maar net so gelief of gehaat is soos jou laaste wedstryd. Daarom moet jy dit vir die regte redes doen.”
Meyer rig af omdat hy die spel geniet en ’n verskil in mense se lewe wil maak. Sedert sy eerste rondte by die Springbokke as voorspelerafrigter vir die 1999-rugbywêreldbeker het hy egter baie wyser geword.
“As ek dit (die Bok-afrigterskap) daai tyd gekry het, was dit ’n kwessie van: Ek het arrive. Nou is dit meer ’n kwessie van: Jislaaik, daar gaan druk wees.”
En Meyer het ook gryser geword.
“Jong, dis rugby wat ’n ou so grys maak! Dit voel of ek elke sekonde nog ’n grys haar kry, ek dink ek moet my hare alles afsny,” sê hy en beduie na sy stekelrige hare wat nie plat wil lê nie.
In teenstelling met sy voorgangers stel Meyer nie in ’n outobiografie belang nie.
“Ek sal nooit ’n boek oor myself skryf nie,” sê hy ferm. “Ek weet nooit is ook ’n baie lang tyd, maar omdat ek so lank afrig, sal ek op baie mense se tone moet trap en dis nie vir my aanvaarbaar nie. ’n Ou wil nie kontroversieel wees om ’n boek te verkoop nie.”
Hy het ’n ander tipe boek in gedagte, wat reeds in sy kop klaar geskryf is. ’n Boek oor motivering, ’n slag waaroor hy beskik en waarvan sy spelers kan getuig.
“Jy moet geestelik gehard wees – jy gaan terugslae kry, maar jy moet terugkom,” som Meyer sy filosofie op.
In motiveringspraatjies gebruik hy dikwels ’n dag in 2002 as voorbeeld. Sy vrou is vir borskanker geopereer, terwyl sy pa ’n multi-hartomleiding gehad het en hy amper as Blou Bul-afrigter afgedank is. Alles op een dag. Meyer se drie seuns was toe maar ses maande, twee en vier jaar oud.
“Ek het die kleintjies met die hosepipe afgespuit en hulle gehelp terwyl my vrou chemo gekry het. Dit was moeilik,” sê hy.
Maar Meyer hét teruggekom en tien jaar later die hoogste sport in Suid-Afrikaanse rugbyafrigting bereik.
Eintlik is hy bly dat hy nie die laaste vier jaar voltyds ’n hoofafrigter was nie.
“Ek het baie meer tyd aan my seuns spandeer en ek kon hulle vir die eerste keer in hul sport ondersteun,” sê hy.
Vic is vanjaar in gr. 9, terwyl Heyneke en De Wet onderskeidelik in gr. 7 en gr. 5 is. Toe sy jongste in 1999 gebore is, het Meyer hom daardie jaar vir net 30 dae gesien.
“Elke Saterdag as hulle deelneem, het ek deelgeneem en as hulle verjaar, dan’s jy op ’n toer. Ander belange kom altyd eerste, dis tough op jou kinders.”
Die ander ding waarvan sy rowwe rugby-skedule hom weerhou het, is om saam met sy vrou bergklim te beoefen. Linda vlieg volgende Vrydag Suid-Amerika toe om die kontinent se hoogste piek – en teen 6962 m die naashoogste ter wêreld – te klim.
Dis die 12de groot piek wat dié doktor in plantpatologie suksesvol wil bestyg. Sy het reeds spitse soos Kilimandjaro en Mont Blanc in Frankryk op haar kerfstok.
“As ek iets het wat ek oor teleurgesteld is, is dit dít,” sê hy. “Linda raak nou al hoe beter, sy is al in sneeu en ys, dis nogal wild. Ek kan nie begin waar sy nou is nie.”
Meyer staan buitendien aan die voet van sy eie piek. Berg Springbok wag.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24