Ali word 70
2012-01-20 08:36
EWERS in die laat jare sestig – 1968, raai ek – het my pa my na die dorp se stadsaal geneem om na ’n paar ou boksrolprente te gaan kyk. Ek was nege jaar oud. Daar in die donkerte het die projektor begin kr-r-r-r-r, en skielik het die groot swaargewigte van die 20ste eeu in swart en wit voor my begin beweeg: Jack Johnson (een van die bestes tot nog toe), Jack Dempsey (kliphard), Joe Louis (ekonomies, dodelik), Rocky Marciano (slordig, rateltaai)...
En toe wys die projektor-oom die geveg wat my ’n lewenslange boksliefhebber sou maak: Muhammad Ali teen Cleveland Williams.
Ek het reeds geweet van Ali. My ouer broer het vertel dat hy “baie vinnig en in die tronk” is, en ek het foto’s van hom gesien in Die Burger en Die Huisgenoot, maar hy was “staties”, nes Frik du Preez en Mannetjies Roux voor die koms van televisie.
En toe, hier voor my oë in die stadsaal, kom Ali uit sy hoek, klap sy handskoene teen mekaar en begin sirkel om Williams met grasie wat ek sedertdien nog nie weer gesien het nie, selfs nie op ’n verhoog nie.
Linksom, regsom dans hy, hande amper op die knieë. Nou die linkervoet voor, dan die regtervoet. Williams jaag hom. Ali buk, wieg, mik-mik, koes, systap. Williams slaan. Mis. Mis. Weer mis...
Die geveg duur net drie rondes. Ali slaan Williams vier keer plat, in moontlik die mees kliniese boksgeveg in swaargewig-geskiedenis. (Gaan kyk self. Tik net “Ali vs Williams” in op Google.)
Ek stap uit die stadsaal met ’n nuwe held.
’n Jaar of drie later kuier ek in die skoolvakansie by ’n maat, Marius Loots, op hul plaas buite Prieska. Een aand sit ons op die stoep en gesels oor boks, en uit die bloute sê sy ma, tannie Marie: “Ek het Ali ontmoet.” En sy vertel hoe sy hom oorsee teëgekom het.
Sy gaan haal ’n poskaart. Agterop is ’n vloeiende handtekening: Muhammad Ali. Net dit. On-ge-loof-lik, dink ek. Geskryf met dieselfde regterhand waarmee hy Cleveland Williams platgeslaan het.
Ek was skaars 13 jaar oud, maar daar het die aard van Ali se roem tot my deurgedring. Hy was só bekend dat selfs mense in die diep-Karoo – tot hier op Muiskraal se stoep – van hom geweet het en sy handtekening wou vra. (Niemand in Amerika sou byvoorbeeld Frik of Mannetjies s’n vra nie.)
Maar meer as dit: Ali was bereid om sy handtekening te gee as iemand van Prieska daarvoor sou vra.
Daar is basies drie hoofstukke in Ali se krytloopbaan: sy twee gevegte teen die gevreesde Sonny Liston, die drie teen Joe Frazier, en dan die “Rumble in the Jungle” in 1974 teen George Foreman.
Die belangrikste hoofstuk is moontlik die drie jaar tussen 1967 en 1970 toe Ali nié geboks het nie.
Hy is in 1966 vir militêre diens opgeroep, maar het geweier, met ’n stelling wat ’n politieke wekroep sou word: “I ain’t got no quarrel with no Viet Cong. No Viet Cong ever called me nigger.”
Sy bokslisensie word opgeskort en sy titel word afgevat, maar ten spyte hiervan raak Ali in dié tyd moontlik die bekendste gesig ter wêreld – nou as aktivis, eerder as bloot sportman met ’n gladde mond.
Hy reis internasionaal, spreek hom uit teen Amerika se oorlog in Viëtnam, praat op kampusse. Aan een groep studente sê hy: “If they can make penicillin out of moldy bread, then they can sure make something out of you.”
Toe hy in 1970 weer toegelaat is om te boks, was Ali se beste jare verby.
Joe Frazier klop hom oor 15 rondes. Ken Norton slaan sy kakebeen af en klop hom ook oor 15.
En daar is ’n skrikwekkende nuwe swaargewig op die toneel, George Foreman. Binne twee rondes slaan hy Joe Frazier ses keer met minagting plat. Norton word ook binne twee rondes verpletter. Dan, in Oktober 1974, kom Ali in Kinshasa aan die beurt...
Ek was destyds in st. 7 en het die aanloop tot die geveg in Die Burger en die Cape Argus dopgehou.
Niemand het Ali die geringste kans gegun nie. Foreman was eenvoudig te groot en sterk – onoorwonne in 40 gevegte, 37 van hulle met ’n uitklophou, gemiddeld binne drie rondes.
Die skrywer Norman Mailer beskryf in sy boek The Fight hoe Foreman se afrigtingspan voor die geveg in die kleedkamer gebid het – nie vir Foreman nie, maar dat die liewe Vader tog sal keer dat Ali ernstig beseer word.
Die geveg het vieruur die oggend plaasgevind sodat dit in spitstyd in Amerika uitgesaai kon word.
My pa het my die oggend in sy bruin kamerjas kom wakker maak. “Hy’t gewen,” het hy gesê en sy kop geskud. “Ali het hom so waar as wragtag uitgeslaan.”
Mailer beskryf Ali se laaste regter in die agtste ronde as “the blow Ali saved for a career”. En Foreman se val: “He went over like a six-foot sixty-year-old butler who has just heard terrible news.”
Sewe jaar nadat sy titel van hom afgevat is, was Muhammad Ali weer die wêreldkampioen.
Daarna het Ali nog 22 keer geveg, elkeen onnodig. In dié tyd het hy waarskynlik die skade opgedoen wat bygedra het tot die simptome van Parkinson-siekte wat in 1984 by hom gediagnoseer is.
Was Ali werklik “the greatest”? Hy is steeds die enigste swaargewig wat die wêreldtitel drie keer kon verower – in ’n era van formidabele vegters. Maar doen tog moeite om daardie geveg teen Cleveland Williams te gaan kyk. “That night he was the most devastating fighter who ever lived,” het die kommentator Howard Cossell ná die tyd gesê.
Ali se bokslisensie is enkele maande hierna ingetrek. Tussen die ouderdomme van 25 en 29 is hy nie toegelaat om te veg nie. Ons het Ali nie op sy beste gesien nie.
Wat is sy nalatenskap?
Elk van sy teenstanders se loopbaan is gedefinieer bloot deur die feit dat hulle teen hom geboks het.
George Chuvalo staan vandag nog bekend as “die taaiste man in Kanada” omdat Ali hom in 1966 nie kon uitslaan nie. Joe Bugner is as die Australiër van die Jaar aangewys nadat hy in 1973 (ver) met punte teen Ali verloor het. Chuck “The Bayonne Bleeder” Wepner, wat in 1975 14 rondes teen Ali staande gebly het, was die inspirasie vir Sylvester Stallone se Rocky.
Ali het die bloudruk geskep van wat ’n sportheld kan vermag, op die veld en in die openbare lewe.
En hy het dit reggekry sonder beeldbouers en borge.
Hy was sy eie handelsmerk. The Greatest.
Verlede week het ek tannie Marie Loots gebel om te hoor of ek die storie oor die handtekening reg onthou.
Ja, sy was saam met Ali op ’n vlug tussen Londen en Dallas. Hy was vriendelik en geduldig.
’n Week later is ek terug op kantoor. Daar wag ’n klein bruin koevert vir my. Ek maak dit oop.
Binne is ’n poskaart met ’n prentjie van ’n kabelkarretjie iewers.
Ek draai dit om. Dit is al effens geel. Agterop is ’n netjiese handtekening. Muhammad Ali.
Bronne: Stephen Brunt: Facing Ali – 15 Fighters, 15 Stories VGavin Evans: Kings of the Ring – The History of Heavyweight Boxing (Weidenfeld & Nicolson)VNorman Mailer: The Fight (Penguin)VGilbert Odd: Boxing – The Great Champions V“What I’ve Learned” (Esquire, Januarie 2004)VAn Audience with Muhammad Ali (BBC)