Zuma in China om handelsbande te versterk
2010-08-24 16:20
Beijing - Pres. Jacob Zuma het sy Chinese eweknie, Hu Jintao, Dinsdag hier ontmoet vir ‘n praatjie wat mik om die verhouding tussen Beijing en Afrika se grootste ekonomie te verbreed.
Die besoek word gesien as ‘n geleentheid vir die twee lande om hul reeds omvangryke handelsbande verder uit te brei, en ook vir die twee ontluikende magte om hul strategiese verhouding te vestig.
Zuma het die besoek as “kritiek” bestempel.
“Die praatjies sal sekerlik die verhouding tussen die twee lande na hoër hoogtes voer.”
Die twee lande sal ‘n “omvattende strategiese vennootskap” onderteken en ook oor samewerking in die gebiede van mineralehulpbronne, vervoer en omgewingsbestuur praat.
‘n Kernkrag-opwekker in Suid-Afrika, wat deur ‘n Chinese onderneming gebou kan word, is ‘n moontlike gevolg van hierdie gesprekke.
China se adjunkminister van handel, Gao Hucheng, het ook gesê Beijing sal plaaslike ondernemings aanmoedig om in Suid-Afrika se myn- en hulpbronne-sektore te belê.
China is Suid-Afrika se grootste uitvoervennoot.
Zuma word vergesel deur talle sleutelministers en 350 sakeleiers. Hy sal Woensdag met Premier Wen Jiabao en ander senior Chinese amptenare ontmoet.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP