Ystervrou se leerhandsak haal reusebedrag
2011-06-29 08:03
Den Haag – ’n Swart leerhandsak wat vroeër aan barones Margaret Thatcher, Britse oudpremier, behoort het, is op ’n veiling in Londen vir £25 000 – amper R274 000 – verkoop.
Thatcher, naas Winston Churchill waarskynlik die bekendste Britse premier sedert die Tweede Wêreldoorlog, het dié pos van 1978 tot 1991 beklee. Sy het bekend geword vir die feit dat sy altyd ’n handsak – dikwels dié een – by geleenthede gedra het. Sy is nooit sonder handsak deur spotprenttekenaars geteken nie.
Die opbrengs gaan na die Stigting vir die Britse Magte, wat post-traumatiese stres by oudsoldate behandel, en Debra, ’n stigting vir mense met ’n genetiese velaandoening. Die koper, wie se naam onbekend is, is luidens berigte van Ciprus afkomstig.
Edwina Currie, wat in Thatcher se kabinet gedien het, het aan die BBC gesê die handsak was ’n “wapen” van die premier. Dit het gesê: “Ek is Margaret Thatcher; ek is die baas; ek is in bevel. Ek het al die mag en ek is in beheer.”
Dié spesifieke handsak was langer as 30 jaar in Thatcher se besit. Sy het dit onder meer by haar gehad toe sy pres. Ronald Reagan van die VSA in 1985 in Camp David besoek het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger