Wys mev. Obama te veel vlees?
2009-08-31 08:13
Washington - Daar is nou al vrede gemaak met die feit dat Michelle Obama haar kaal arms wys, maar bobene blyk ’n heel ander saak te wees.
Foto’s van die Amerikaanse presidentsvrou wat in ’n kortbroek by die trappies van Air Force One afklim, het die media aan die gons. Sommige sê Obama, wat op pad was na die Grand Canyon vir ’n gesinsvakansie, het te veel vlees gewys.
Obama se modekeuses, soos om haar kaal arms te ontbloot of om duur tekkies na ’n sopkombuis te dra, word reeds geruime tyd onder die openbare vergrootglas geplaas.
Toe Anya Strzemien, stylredakteur van The Huffington Post, Obama se kortbroek sien, het sy geweet daar gaan gepráát word.
“Ek het gedink die feit dat sy ’n kortbroek aangehad het, is nuuswaardig, omdat sy die eerste presidentsvrou is wat ’n kortbroek op Air Force One dra,” het Strzemien gesê. “Ek het as nuusmens daarin belang gestel omdat dit ’n eerste was.”
Sy het lesers in ’n meningspeiling gevra wat hulle dink. Die meeste was ten gunste van die uitrusting, maar ander het gedink die kortbroek was onvanpas of te kort.
Die peiling van NBC se Today Show, waaraan 300 000 mense deelgeneem het, het soortgelyke resultate getoon. Die aflewering se blog het die meeste kommentaar tot dusver dié jaar gekry, het me. Dee Dee Thomas, ’n senior vervaardiger by die program, gesê.
Wat bewys dit?
“Dat mense dol is daaroor om oor Michelle Obama te praat,” het Thomas gesê. “Sy verskuif die grense van hoe ons ’n presidentsvrou sien.”
Die nuusmedia praat ook graag oor Michelle Obama. Baie nuusdienste het haar verdedig en genoem dat sy op vakansie was toe sy die kortbroek oor ’n naweek in snikhete woestynweer gedra het.
“Wat moes sy na die Grand Canyon aangetrek het? ’n Tweed-broekpak? ’n Balrok? Wat dra jy op jou somervakansie?” het Elizabeth Snead van die Los Angeles Times gevra.
Mary Tomer, stigter van Mrs-O.org, ’n blog oor Obama se styl, het gesê die bohaai is deur die media geskep.
“Sover ek kan agterkom, wonder die meeste mense hoe dit groot nuus geword het,” het Tomer gesê.
“Wie dra nie ’n kortbroek as jy in die middel van Augustus saam met jou gesin in die Grand Canyon stap nie?”
- Sapa-AP