Woede ná hond in S-Korea aan die brand gesteek word
2013-01-23 14:07
Seoel – ‘n Suid-Koreaanse dierebeskermingsgroep het Woensdag ‘n beloning van R25 000 aangebied om diegene wat ‘n hond aan die brand gesteek het, vas te trek.
Kringtelevisie-beeldmateriaal van die hond wat deur ‘n parkeerterrein hardloop terwyl hy in vlamme is, is op nasionale televisienuuskanale uitgesaai en het talle gesprekke op sosiale netwerke uitgelok.
Die hond het by ‘n motorhuis ingehardloop, wat daartoe gelei het dat die struktuur in Yongin, ‘n stad suid van Seoel, Sondag afgebrand het.
Die groep, Coexistence of Animal Rights on Earth, het ‘n beloning van drie miljoen won (byna R25 000) aangebied vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van dié wat verantwoordelik is vir die grusame daad.
“Wat ook al hulle probeer doen het, of hulle hom wou doodmaak, eet of mishandel, dit kan om geen rede geduld word nie,” het die groep gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP