Woede in Oekraïne oor omstrede taalwet
2012-07-04 18:37
Kiev – Onlustepolisie in die Oekraïne moes Woensdag traangas en knuppels gebruik om honderde betogers in Kiev uitmekaar te jaag.
Dit het gevolg na ‘n nuwe wet aanvaar is wat die status van Russies ‘n hupstoot gee in dié voormalige Sowjet-republiek.
Dit het tot gevolg gehad dat Oekraïne se parlementêre speaker, Volodymyr Lytvyn, aangebied het om te bedank.
Betogers, gelei deur opposisielede van die parlement, wat die rol van Oekraïens as die enigste amptelike taal verdedig, het saamgedrom voor ‘n gebou waar president Viktor Yanukovich beplan het om ‘n mediakonferensie te hou.
Die parlement het die taalwet Dinsdag goedgekeur, minute na ‘n onverwagse voorstel deur ‘n bondgenoot van pres. Yanukovich. Die voorstel het die opposisie min tyd gegee om te stem en het botsings binne die parlement en op straat veroorsaak.
“Daar is miljoene van ons en hulle kan nie maak asof niks gebeur nie,” het Vitali Klitschko, wêreldswaargewigbokskampioen, wat sy eie opposisieparty, Udar (Blow), gestig het en ook deelgeneem het aan die betogings.
Betogers het Yanukovich aangemoedig om sy vetoreg te gebruik om die wet te verwerp.
Yanukovich het die mediakonferensie gekanselleer en ‘n dringende vergadering saam met leiers van groot faksies en Lytvyn geroep.
Yanukovich het later gesê die Oekraïne sal dalk ‘n vroeë parlementêre verkiesing moet hou as die krisis voortduur.
Dié taalwet, wat nie wettiglik geïmplimenteer kan word voordat Yanukovich én Lytvyn dit afteken nie, sal Russies as ‘n streekstaal aanvaar, wat beteken dat Russies in die openbare sektor gebruik mag word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters