William en Harry kom in SA sokker kyk
2009-10-28 13:36
Londen. – Prins William en prins Harry is onder die sowat 50 000 Engelse sokkergeesdriftiges wat vir die Wêreldbeker-toernooi na Suid-Afrika kom, het die Sun gister berig.
Die twee se teenwoordigheid kan Engeland se selfvertroue ’n aansienlike hupstoot in die kompetisie gee. Die besoek is glo nog in die beplanningstadium, maar na verwagting sal hulle verlof van hul militêre pligte kry.
William gaan glo ’n groot rol speel om te verseker dat Brittanje in 2018 die gasheerland vir die toernooi is. Harry is weer gretig om aandag op die lot van mense met MIV/vigs in Lesotho te vestig deur middel van sy liefdadigheidsorganisasie Sentebale wat bystand aan kinders bied wat weens die virus wees gelaat is.
- Beeld