WikiLeaks-stigter se bankrekening gesluit
2010-12-06 22:13
Geneva – Die Switserse posstelsel het WikiLeaks se bankrekening gesluit en nog ‘n ernstige terugslag veroorsaak vir die webwerf wat talle staatsgeheime aan die publiek uitgelap het.
‘n Amptenaar van Swiss Post in die land se hoofstad Bern het Maandag aan die Associated Press gesê dat die rekening onder die WikiLeaks-stigter, Julian Assange, se naam gekanselleer sal word.
Die finansiële afdeling van Swiss Post het ondersoek ingestel oor of Assange ‘n inwoner van Geneva was, soos wat hy verlede maand in sy aansoek vir die rekening beweer het.
Hierdie laaste terugslag laat Assange met slegs ‘n paar opsies om geld vir sy webwerf te bekom: deur ‘n Switserse-Ysland kredietkaart prosesseringsentrum en rekenings in Ysland en Duitsland.
‘n Switserse webwerf, wikileaks.ch, het meeste van die verkeer van WikiLeaks gedra nadat ander internetdienste en aanlyn betaal-verskaffers begin het om hul bande met die organisasie te verbreek.
Volg Nuus24 op Twitter
- AP