WikiLeaks-stigter in hegtenis geneem
2010-12-07 13:00
Londen – Die stigter van die WikiLeaks-fluitjieblaserwebwerf, Julian Assange, is op aanklagte van seksuele aanranding in Londen in hegtenis geneem.
‘n Europese lasbrief vir die omstrede WikiLeaks-stigter is aan sy prokureurs oorhandig.
Polisiebeamptes van Scotland Yard het die 39-jarige Australiër om 9.30 die oggend vasgetrek.
Assange se prokureur, Mark Stephens, het die aantygings teen hom as ‘n “politieke foefie” bestempel.
Hy sê Assange wil presies weet wat die aantygings teen hom is sodat hy sy naam kan skoonvee.
Twee Sweedse vrouens beskuldig Assange daarvan dat hy hulle seksueel aangeval het tydens sy besoek aan Swede in Augustus.
Assange sal na ‘n ontmoeting met die polisie voor die landdros in Westminister verskyn.
Daar sal dan besluit word of die lasbrief teen hom genoeg is om hom aan die Sweedse owerhede uit te lewer.
Stephens het verduidelik dat hy uitlewering ten alle koste wil vermy, ingeval Assange in die hande van die Amerikaners land.
Volg Nuus24 op Twitter.