WikiLeaks sluit vir eers sy deure
2011-10-26 07:03
Den Haag – WikiLeaks was vandeesweek verplig om sy werksaamhede voorlopig, dalk selfs permanent, te staak.
WikiLeaks is die organisasie wat die laaste maande groot opspraak oor die wêreld heen veroorsaak het met die publikasie van altesame 251 000 vertroulike Amerikaanse diplomatieke boodskappe. Dit het groot verleentheid vir die Amerikaanse regering veroorsaak.
Die stigter van WikiLeaks, Julian Assange, is baie omstrede. Hy het aanvanklik met gerespekteerde koerante soos The Guardian, El Pais, Le Monde, Der Spiegel en The New York Times saamgewerk, maar intussen rusie met hulle (en sy vennote in WikiLeaks) gekry. Hy word ook in Swede van verkragting aangekla.
Die rede waarom die organisasie sy werksaamhede opskort, is “kontantvloei-probleme”, het Assange luidens berigte op ’n nuuskonferensie in Londen gesê.
’n Londense hof sal binnekort besluit of Assange vir die verkragtingsaak aan Swede uitgelewer mag word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger