WikiLeaks ‘is kos vir terroriste’
2010-12-08 09:17
Washington – WikiLeaks het pas ’n geheime lys bekend gemaak wat deur Washington saamgestel is van belangrike strategiese infrastruktuur wêreldwyd wat, sou dit in terreuraanvalle geteiken word, ’n kritieke gevaar vir Amerikaanse veiligheid inhou.
Hierdie nuwe inligting tel onder die mees omstrede wat die klikwerf tot nog toe onthul het.
Een van die onthullings is dat die oudpremier van Australië, Kevin Rudd, in Maart 2009 die VSA se minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, gemaan het dat kragdadigheid dalk teen China gebruik kan word “indien enigiets sou skeef loop”.
Die inligting bevat ook besonderhede oor ondersese kabels, hawens, minerale hulpbronne en maatskappye van strategiese belang in lande wat wissel van Brittanje tot Nieu-Seeland, Afrika, die Midde-Ooste en China.
’n Kanadese hidroëlektriese aanleg word beskryf as ’n “kritieke, onvervangbare bron van krag na dele van Noordoos-Amerika”.
Die dokumente lui onder meer dat Saoedi-Arabië die grootste geldbron van radikale Islamitiese groepe, insluitend Al-Kaïda en Hamas, is, dat lande soos Katar en Koeweit laks is om burgers wat skenkings aan dié groepe maak, vas te vat endat Clinton die Russiese premier, mnr. Wladimir Poetin, as ’n “poppespeler agter die skerms” beskou wat geïrriteerd is dat hy met pres. Dmitri Medwedef moet saamwerk.
“Die jongste lek is ’n verdere bewys dat WikiLeaks in die algemeen onverantwoordelik is en aan misdadigheid grens. Dit is die soort inligting waarin terroriste belangstel,” het Malcolm Rifkind, ’n gewese Britse minister van verdediging en buitelandse sake, gesê.