Werker voer pasiënt spykers
2009-08-28 20:56
Allentown, Pennsilvanië – ‘n Werker by ‘n sielkundige inrigting in Pennsilvanië in Amerika het erken dat sy vier spykers aan ‘n pasiënt gegee het en haar oorreed het om dit in te sluk.
Athena Marie Sidlar(28), ‘n voormalige werker by die Allentown Staatshospitaal, het Woensdag skuld beken tot die dade.
Volgens polisie het sy in Januarie vanjaar ‘n 18-jarige vroulike pasiënt gewys hoe om spykers in te sluk. Vier spykers moes toe vanuit die pasiënt se maag verwyder word.
Sidlar het aan die hof gesê dat sy bipolêr is en gereeld spykers en ander metaal voorwerpe insluk.
Sy sal weer op 8 Oktober in die hof verskyn.
- Sapa