Werker sterf in Britse mynongeluk
2011-09-28 08:27
Londen – ‘n Mynwerker is dood en ‘n ander een gered ná ‘n ongeluk by ‘n steenkoolmyn in die noorde van Engeland.
Die ongeluk volg slegs weke nadat vier myners in ‘n mynongeluk in Wallis gesterf het.
Gareth Williams, besturende direkteur van UK Coal, sê die operateur kan bevestig dat ‘n dak Dinsdag om 17:35 (SA tyd) ingegee en twee kollegas vasgekeer het.
Hy sê ander kollegas het daarin geslaag om een van die mynwerkers te bevry.
Die Yorkshire-ambulansdienste sê nooddienswerkers is na die Kellingley-steenkoolmyn, buite die dorp Knottingley, ontbied nadat hulle ‘n oproep om 17:51 (SA tyd) ontvang het.
Die voorval kom minder as twee weke nadat vier myners dood is toe hul weens kitsvloede in ‘n steenkoolmyn in Cilybebyll, in die suide van Wallis, vasgekeer is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP