Wêreldleiers mis Poolse president se begrafnis weens as
2010-04-18 10:46
Pole - Die liggame van die Poolse president, Lech Kaczynski, en sy vrou, Maria, het hul finale reis begin na 'n staatsbegrafnis in Krakow Sondag, soos wat 'n wolk van vulkaniese as oor Europa verskeie wêreldleiers weggehou het.
Duisende roubeklaers het in die suidelike stad byeen gekom soos wat die paar se kiste met militêre lugvervoer vanaf Warsaw vervoer is. Die lugvaartuig het onder die wolk van as gevlieg wat globale lugvervoer ontwrig en president Barack Obama verhinder om die begrafnis by te woon.
Die Duitse kanselier, Angela Merkerl, Franse president, Nicolas Sarkozy, Brittanje se Prins Charles en Suid-Koreaanse eerste minister, Chung Un-Chan het ook aangekondig hulle sal nie die roudiens kan bywoon nie.
Die begrafnis sal die klimaks van nasionale rou wees sedert die presidentspaar en 94 ander mense, waaronder baie senior militêre beamptes, agt dae vantevore in 'n vliegongeluk in Rusland dood is.
Krakow stadswoordvoerder, Filip Szatanik, het aan AFP gesê dit sal "een van die grootste, indien nie die grootste enkele gebeurtenis wees wat die stad die afgelope honderd jaar gesien het" .
- AFP