Wêreld se markte sidder oor VSA-skuld
2011-08-08 07:05
Kaapstad – Die waarde van pensioenfondse, effektetrusts en aandeleportefeuljes wêreldwyd is in die gedrang nadat Amerika oor sy staatskuld afgegradeer is.
Die historiese besluit van die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s (S&P) om Amerika oor sy staatskuld af te gradeer, het wêreldmarkte Sondag laat bewe.
Die afgradering wakker nuwe vrese oor nog ’n resessie in Amerika en kommer oor die skuldkrisis in Europa aan. Dit kan die insinking op die aandelemarkte verdiep wat verlede week reeds $2500 miljard se waarde verloor het.
Die finansministers en hoofde van die sentrale banke van die groot sewe nywerheidslande sou vroeg vanoggend vergader het om die jongste krisis te bespreek.
Die Europese Sentrale Bank sou Sondagaand laat besluit het of hy Italiaanse staatseffekte gaan aankoop om die skuldprobleme in Europa in bedwang te probeer hou.
Saoedi-Arabië se beurs was die eerste wat deurgeloop het onder die onsekerheid en het Saterdag met meer as 5% geval. Sondag was die Israelse aandelebeurs in Tel Aviv meer as 6% laer.
In Doebai het die mark Sondag met 4,5% geval, later effe herstel en steeds 3,7% laer gesluit.
S&P grond sy besluit Vrydagaand om Amerika se kredietgradering van AAA tot AA+ af te gradeer, op Amerikaanse leiers se onbeholpenheid om hul reuse-begrotingstekort en skuldlas behoorlik te hanteer.
Dit kom skaars ’n week nadat pres. Barack Obama net betyds ’n ooreenkoms tussen die Demokrate en die Republikeine aangekondig het om die land se skuldplafon te verhoog en besteding te sny, ná weke se weerbarstigheid tussen die twee politieke partye.
’n Laer skuldgradering beteken groot leners sal eerder by ander lande geld leen as by Amerika, wat tot ’n swakker dollar en swakker opbrengste op Amerikaanse staatseffekte kan lei. - Sapa-AFP, Reuters
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad