Wêreld gons oor Malema se skorsing
2011-11-11 08:04
Den Haag – Die skorsing van Julius Malema as lid van die ANC en leier van die ANC-jeugliga het Donderdag groot aandag op internasionale media se webwerwe getrek.
Heelparty berigte noem Malema ’n “rassis” en kom tot die gevolgtrekking dat die skorsing pres. Jacob Zuma se magsposisie in die ANC versterk.
Die BBC het berig die skorsing sal Zuma se poging om as ANC-leier en staatshoof herkies te word, bevorder. Dis moeilik om te sien hoe Malema die leierskapsverkiesing nou nog kan beïnvloed.
The New York Times het daarop gewys dat die vonnis veel strawwer is as wat verwag is. Dit wek die indruk dat Zuma sy gesag laat geld om Malema in die politieke debat aan die kantlyn te plaas, maar dit kan ook ’n teenreaksie onder laasgenoemde se jong, werklose ondersteuners uitlok.
The Guardian (Londen) het gesê dat dit ook ’n klap is vir Winnie Madikizela-Mandela, wat Malema by sy tugverhoor verdedig het. The Daily Telegraph het gegis dat Malema na dese ’n “splinterparty kan vestig in ’n poging om sy gewese vriend en nou aartsvyand Jacob Zuma se mag te breek”.
The Washington Post het daarvan verskil en gesê Malema is nou “sonder ’n platform en sonder ’n waarborg dat hy ’n magsbasis buite die party sal kan oprig”.
De Volkskrant (Amsterdam) het Malema ’n uiters omstrede jeugleier genoem en gesê ontleders vrees dat sy optrede die beleggingsklimaat in Suid-Afrika sal skaad. Sy skorsing is goed vir die land, meen ontleders.
Volgens Le Figaro (Parys) was die aanklagte teen Malema ’n geveg om invloed in die ANC voor ’n groot konferensie wat vir einde 2012 beplan word.
Terselfdertyd het Il Post, ’n Italiaanse web-nuusdiens, geskryf Malema is die meeste bekend vir sy “onkunde en rassistiese taal”.
In Duitsland het die Frankfurter Allgemeine Zeitung, dié land se mees intellektuele koerant, geskryf Zuma was voor die Malema-bevinding ’n “flou makou”: “Hy regeer nie; op sy beste reageer hy bloot.”
– Volg Nuus24 op Twitter.