Weermag soek na vermiste soldaat
2011-07-05 07:49
Pretoria - Die Britse weermag was Maandag besig met ’n uitgebreide soektog in die suide van Afganistan nadat een van sy soldate in die vroeë oggendure vermis geraak het.
Die Taliban het terselfdertyd ’n verklaring uitgereik waarin hy gesê het sy vegters het die soldaat doodgeskiet.
Die Britse ministerie van verdediging het in ’n bondige verklaring net bevestig dat die soldaat weg is en dat sy familie daarvan in kennis gestel is.
Geen verdere inligting sal uitgereik word voordat daar verdere verwikkelinge is nie, lui die verklaring deur die ministerie (www.mod.uk).
Militêre bronne en die Taliban se weergawes van wat die omstandighede rondom die soldaat se “verdwyning” was, verskil, berig SkyNews.
Amptelik word gesê die soldaat was aan diens in sentraal-Helmand. Al die koalisiemagte se operasies is vir eers gestaak en fokus nou daarop om hul vermiste makker te vind.
Die amptelike bevestiging kom nadat die Taliban volgens SkyNews Sondag reeds in ’n teksboodskap gesê het hy het die soldaat gevange geneem en naby Babaji in die suide van Helmand tereggestel.
Luidens die Taliban se boodskap was die soldaat deel van ’n skermutseling met Taliban-vegters toe hy gevang is. Toe die geveg te intens geraak het, het die vegters hom doodgeskiet.
Die Taliban se verklarings is gereeld oordrewe en nie altyd die waarheid nie.
Volgens SkyNews se bronne het die soldaat glo diens by ’n voertuigkontrolepunt gedoen. In ’n stadium het hy ’n entjie daarvan weggestap, waarna hy weggeraak het.
As die Taliban die soldaat aanhou, sal dit die tweede soldaat van die koalisiemagte wees wat in aanhouding is.
Sers. Bowe Bergdahl (25), ’n Amerikaanse soldaat, is reeds in 2009 in die Paktika-provinsie op die grens tussen Afganistan en Pakistan gevange geneem. Hy word vermoedelik steeds in Pakistan aangehou.
Twee Amerikaanse matrose het verlede jaar in Julie suid van Kaboel vermis geraak. Hul lyke is kort daarna gevind.
- Volksblad