Weermag ingestuur om Thai vloed-slagoffers te help
2011-09-30 19:08
Bangkok – Thailand het Vrydag sowat 10 000 soldate ontplooi om slagoffers van die vloede, wat 188 mense se lewens geëis het en groot dele van die land onder water gelaat het, te help.
Hulle word ondersteun deur 500 militêre voertuie en meer as 100 bote wat toegerus is met luidsprekers en flitsligte.
Die troepe sal die vloedgeteisterde gebiede patrolleer om te verseker dat mense veilig is, het die weermaghoof gesê.
“Die weermag is gereed om die mense uit hul benarde situasie te help so ondersteun asseblief die soldate,” het genl. Prayut Chan-O-Cha aan verslaggewers gesê voordat hy Bangkok verlaat het om ondersoek in te stel by een van die 23 oorstroomde provinsies.
Die weermag het ook 12 mediese spanne uitgestuur om noodhulp en sielkundige behandeling te bied aan diegene wat dit kort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP