Weermag in Thailand maak gereed vir betogers
2010-04-19 04:19
Bangkok – Gewapende lede van die Thaise weermag het inbeweeg om Bangkok se hoof besigheidsdistrik af te baken van duisende mense wat teen die regering betoog.
Die regering het Silomstraat, wat gereeld Bangkok se Wallstraat genoem word, as buite perke vir die betogers verklaar.
Soldate het Maandagoggend die lang deurpad wat vol banke en besighede is gepatrolleer.
Sommiges het bo-op geboue toesig gehou en uitgekyk vir moontlike skerpskutters.
Die betogers het gedreig om Dinsdag na die area te betoog en dit het kommer veroorsaak dat gevegte weer sal uitbreek.
25 mense is dood in gevegte ‘n week gelede.
- Sapa-AP