Weer hou ruimtetuig terug
2009-07-13 12:00
Cape Canaveral, Florida – Gure weersomstandighede het die lansering van die Amerikaanse ruimtetuig Endeavour Sondag vir ‘n vierde keer in die wiele gery.
Weervoorspellers voorsien ‘n 60% kans dat Endeavour ook nie Maandagaand gelanseer kan word nie weens slegte weer.
Donderstorms het Sondagaand die Endeavour en haar sewe bemanningslede op die lanseerplatform vasgepen en sodoende vir ‘n verdere terugslag vir bouwerk aan die internasionale ruimtestasie waarheen hulle op pad is, gesorg.
Kommandeur Mark Polansky het egter beaam die span sal gereed wees om op te styg sodra die geleentheid hom voordoen.
NASA het net tot Woensdag om die Endeavour, wat die laaste stuk van die Japanese ruimtelaboratorium na die internasionale ruimtestasie sal vervoer, te lanseer. Indien die ruimtetuig nie voor Woensdag in die lug kom nie, sal die span tot einde Julie moet wag weens ‘n Russiese voorraadskip wat ook wag om gelanseer te word.
Die Endeavour en die sewe ruimtevaarders aan boord het uiteindelik op 16 Julie opgestyg.
-Sapa/AP