Wall Street-betogings kry momentum
2011-10-05 12:30
New York – Betogings in Wall Street, New York sal na verwagting Woensdag uitbrei, met meer groepe wat na Manhattan sal beweeg om deel te neem.
Onder die groepe wat beplan om by die betogings aan te sluit is die liberale groep MoveOn.org en gemeenskapsorganisasies soos Working Families Party en United NY.
Die groeiende groep sal ook lede van die Chinatown Tenants Union en die Transit Workers Union insluit, wat beteken daar is nog geen teken dat die betogings besig is om momentum te verloor nie.
Organiseerders het in die tussentyd ‘n beroep op studente by kollege-kampusse gedoen om hul klasse om 14:00 te verlaat en deel te neem aan die optog.
“Ek dink daar is ‘n gevoel van magteloosheid, hulle voel asof niemand na hulle luister nie,” het Camille Rivera, uitvoerende direkteur van United NY, gesê.
“Wat doen jy as niemand na jou luister nie? Jy maak jou mond oop, jy neem aksie.”
Die groepe sal van die stadsaal na Zuccotti Park in die onderste deel van Manhattan stap. Dit is die nie-amptelike hoofkwartiere waar betogers in slaapsakke uitgekamp het.
Dit is nie duidelik hoeveel mense Woensdag aan die optog sal deelneem nie, maar volgens organiseerders kan duisende opdaag.
Dié betogings is daarop gemik om protes aan te teken teen vermeende korporatiewe gulsigheid.
Honderde betogers wat soos korporatiewe zombies aangetrek was, het Dinsdag voor die New Yorkse effektebeurs (NYSE) in Manhattan ‘n optog gehou en fop-geldnote in hul hande vasgehou.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP