Wag skiet skolier per ongeluk dood
2011-06-03 10:14
San Jose – ‘n Amerikaanse hoërskoolleerling is deur ‘n veiligheidswag by ‘n hotel in Costa Rica doodgeskiet nadat die wag hom vir ‘n dief misgis het, het polisie gesê.
Die 17-jarige leerling het die land besoek om Spaans te leer praat.
Beamptes sê ‘n groep Amerikaanse studente het laat by die hotel naby die dorp La Fortuna opgedaag toe die veiligheidswag op hulle begin skiet het.
Volgens die polisie is die 34-jarige wag in hegtenis geneem.
Milton Penaranda, die eienaar van die hotel, het aan ‘n nasionale televisiestasie gesê die veiligheidswag het die leerlinge vir ‘n groep diewe misgis. Hy het glo ‘n skoot in die lug afgevuur.
Die skoliere het paniekbevange geraak en na die hotel gehardloop, het hy gesê.
Die veiligheidswag het glo gedink die seuns gaan hom aanval en het toe nóg ‘n skoot afgevuur.
“Ongelukkig het die koeël een van hulle getref,” het Penaranda vertel.
Die skolier, wie se identiteit nie vrygestel is nie, is in die bors geskiet. Die polisie sê hy is dadelik dood.
Die slagoffer was ‘n student by die McLouth-hoërskool in Kansas. Hy was deel van ‘n groep van twaalf studente wat Spaans in Costa Rica gestudeer het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA