Vyf vermis nadat skepe bots
2010-12-01 02:00
Sofia, Bulgarye – Vyf mense is vermis nadat ‘n vragskip met ‘n tenkskip op die Swartsee gebots en die vragskip gesink het, het amptenare gesê.
Vlootskepe en helikopters het Dinsdag vir die vyf gesoek.
Volgens die ministerie van vervoer het die vragskip Karam 1, wat van Sierra Leone afkomstig was, laat Maandag gesink nadat dit 16 kilometer van Cape Emine met die Duitse tenkskip, Alessandro DP, gebots het.
Vyf matrose van die vragskip se bemanning, wat uit nege van Sirië en een van Egipte bestaan het, is gered en vyf is vermis.
Die vragskip was met afval metaal gelaai en op pad na Istanbul, terwyl die tenkskip leeg was en na die hawe in Varna in Bulgarye onderweg was.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP