Vyf vas vir dierebene-handel
2010-09-29 13:52
Hanoi – Vyf mense is in hegtenis geneem nadat hulle met parte van diere gehandel het, het ‘n polisiebeampte in Hanoi Woensdag gesê.
Die verdagtes het glo die oorblyfsels van seldsame diere, insluitende tier- en olifantbeendere, gekoop en voorberei om vir tradisionele medisyne te gebruik.
Polisie het die vyf verdagtes Dinsdag in hegtenis geneem, het kol. Nguyen Van Nong, hoof van die Hanoise polisie se departement vir ekonomiese misdaadondersoek, gesê.
Nguyen The Gioi (54) en sy vrou Nguyen Thuy Dung (49) het na bewering die groep verdagtes gelei.
Drie ander mans is ook vas nadat hulle glo verantwoordelik was vir die koop en vervoer van die seldsame dierebeendere.
Polisie het dierebeendere op 15 September opgespoor nadat hulle ‘n motor gestop het wat beendere van tiere en bokke vervoer het.
Die bestuurder van die motor het die polisie na ‘n gebou geneem wat tien geraamtes van tiere en sowat 600kg se beendere van olifante, bere en swart luiperds bevat het.
Onwettige handel in tiere, ape en ander seldsame diere is volop in Viëtnam en China, waar die beendere en ander liggaamsdele dikwels in tradisionele medisyne gebruik word.
‘n Kilogram se smeer wat uit suiwer tierbeendere gemaak is, kan vir $5 000 (sowat R34 700) op die swartmark verkoop word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA