Vuurpyl-aanval dood 2 kinders, 2 vroue
2011-02-22 21:00
Peshawar (Pakistan) - Vuurpyle wat deur militantes op ‘n weermag-kontrolepunt afgevuur is, het Dinsdag huise van burgerlikes in die noordweste van Pakistan getref en twee vroue en twee kinders dood gelaat, het die polisie gesê.
“Militantes het ses vuurpyle vanaf ‘n onvermelde ligging in die Kurram-stamgebied afgevuur. Die vuurpyle was gemik op ‘n weermag-kontrolepunt in die nabygeleë dorp Hangu. Die vuurpyle het huise van burgerlikes getref,” het ‘n plaaslike polisiebeampte, Abdul Rasheed, gesê.
Buiten die twee vroue en twee kinders wat dood is, is sewe ander mense beseer.
Militantes van die Taliban en Al-Kaïda voer dikwels aanvalle in die noordweste van Pakistan en die wettelose stamgebied op die grens met Afganistan uit. Die Amerikaners glo dié gebied is die gevaarlikste plek in die wêreld.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP