Vulkaan bars uit in Ysland
2010-04-15 06:45
Reykjavik – ’n Vulkaniese uitbarsting gister in suidelike Ysland het ’n rookwolk en stoom afgegee en honderde mense moes die yl bevolkte gebied ontruim.
Die wolk het bo ’n krater uitgestyg wat bedek is met ys van ongeveer 200m diep by die Eyjafjallajokull-gletser.
Die radiodiens van die Yslandse regering het berig die uitbarsting was naby die plek waar een verlede maand plaasgevind het en wat Maandag eers uitgewoed het.
Die radiodiens het berig Ysland se burgerlike beskermingsowerheid het 700 mense aangesê om hul huise te ontruim en gemaan dat ’n rivier daar naby – wat reeds met 84cm gestyg het – kan oorstroom wanneer die ys smelt.
Luidens die berig kon ’n opening in die gletser vanuit ’n vliegtuig van die kuswag gesien word, maar weens lae wolke is geen lawa of vuur opgemerk nie.
Wetenskaplikes in Ysland het Maandagoggend vroeg, twee uur voor die uitbarsting, ’n toename in seismiese aktiwiteit naby die gletser gemeet.
Daar was geen ongevalle toe die vulkaan naby die Eyjafjallajokull-gletser verlede maand uitgebars het nie.
Ysland is as’t ware in ’n vulkaniese mynveld in die Middel-Atlantiese rif geleë en uitbarstings is ’n betreklik gereelde verskynsel.
– Reuters