Vulkaan bars uit in Nieu-Seeland
2012-11-21 07:13
Wellington – Vlugte is vertraag nadat 'n vulkaan in 'n nasionale park in Nieu-Seeland uitgebars en as die lug ingestuur het, het wetenskaplikes gesê.
Die regeringsagentskap GNS Science het ná die uitbarsting 'n waarskuwing vir 'n moontlike bedreiging uitgereik. Die vulkaan het in Augustus vanjaar uitgebars nadat dit langer as 'n eeu stil was.
Owerhede het die uitbarsting as "klein" beskryf, maar sê die toestande in die gebied naby berg Tongariro kan weens die vulkaniese asneerslae in gevaar wees.
Geen skade of ongevalle is in dié deel van Noordeiland aangemeld nie.
Die uitbarsting in Augustus, die eerste sedert 1897, het vlugvertragings en padsluitings veroorsaak, maar Air New Zealand het gesê hy verwag nie dat die jongste uitbarsting dienste erg sal ontwrig nie, maar die situasie word gemonitor.
Clint Green, 'n plaaslike inwoner, wat die uitbarsting gesien het, het gesê vulkaniese as is sowat twee kilometer die lug ingestuur.
"Dit was nogal skouspelagtig. Ek het eers nie geglo wat ek sien nie," het hy aan Radio New Zealand gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP