Vrou wen diskriminasie-saak teen British Airways
2013-01-15 16:19
Brussels – ‘n Werknemer wat deur British Airways gevra is om ‘n Christen-kruis om haar nek te verwyder, het ‘n godsdienstige diskriminasiesaak by Europa se menseregtehof gewen, maar drie ander mense het Dinsdag soortgelyke sake verloor.
Die uitspraak deur die Europese hof vir menseregte sal beteken privaat maatskappye sal weer moet dink oor hoe hulle hul werknemers se regte, om hul godsdienstige oortuigings in die werkplek uit te druk, hanteer.
Nadia Eweida is in 2006 sonder betaling by British Airways afgedank nadat sy ‘n hangertjie met ‘n klein silwer kruis gedra het. Die maatskappy het gesê dit oortree sy reëls rakende kleredrag.
Die hof het beslis dat British Airways se versoek aan Eweida om die kruis af te haal “’n inmenging is van haar reg om haar geloof uit te druk”.
Die Britse premier, David Cameron, het in reaksie tot die uitspraak op Twitter gesê: “Verheug dat die beginsel om godsdienstige simbole by die werk te dra bekragtig is – mense moenie onder diskriminasie deurloop as gevolg van godsdienstige oortuigings nie.”
Cameron het onderneem om wetgewing in te stel wat individue toelaat om godsdienstige simbole by die werk te dra, in reaksie op Eweida se saak in Julie 2012,
Nietemin het Shirley Chaplin, Lillian Ladele en Gary McFarlane sake verloor waarin hulle beweer dat Britse howe nie hul reg tot godsdienstige uitdrukking beskerm het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters