Vrou 'weet nie sy's swanger', los baba in toilet
2011-02-09 23:00
Greenville, Suid-Carolina - ‘n Vrou wat daarvan beskuldig word dat sy in ‘n sportstadion se badkamer geboorte geskenk en haar baba gelos het om daar te sterf, sê sy het nie geweet sy was swanger nie en kan nie die geboorte onthou nie, het haar ma Woensdag in die hof gesê.
“Sy het absoluut geen tekens van swangerskap getoon nie,” het Anita McAulife gesê in die verhoor vir haar dogter, Jessica Blackham, se borgtogaansoek.
Volgens die polisie het Blackham (24) Vrydagaand geboorte aan ‘n babaseuntjie van 2,72 kilogram geskenk en hom in die koue toiletwater gelos.
Blackham, wat ook die ma van ‘n vierjarige kind is, het tydens ‘n sirkusvertoning siek gevoel en na die badkamer gegaan, het McAuliffe gesê. Sy het gesê haar dogter kan nie onthou wat volgende gebeur het nie en is later hospitaal toe om vir bloeding behandel te word.
Sy word aangekla van kindermishandeling en kan tot 30 jaar tronkstraf opgelê word.
Volgens die owerhede is die baba, wat in die sorg van die staat is, in ‘n gesonde toestand by die hospitaal.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP