Vrou wat dogter verwurg 20 jaar tronk toe
2011-04-05 23:00
White Plains (New York) - ‘n Vrou wat erken het sy het haar 18-jarige dogter op ‘n kollege-kampus verwurg omdat sy “oneerbiedig” was, is Dinsdag 20 jaar tronkstraf opgelê.
Stacy Pagli (38) is in die Westchester County-hof gevonnis nadat sy skuldig gepleit het op dié aanklag.
‘n Pleitooreenkoms is bereik nadat dokters vir die staat en die verdediging ooreengestem het dat sy emosioneel versteurd was toe sy Marissa Pagli by die Manhattanville Kollege in Purchase verwurg het.
Sy is aanvanklik van moord aangekla, maar is skuldig bevind aan manslag in die eerste graad.
Marissa Pagli, ‘n eerstejaarstudent by dié kollege, is in Februarie 2010 dood gevind in die gesin se woonstel op kampus. Haar pa, ‘n instandhouding-toesighouer by die kollege, het haar lyk gevind.
Stacy Pagli het aan die polisie gesê sy het haar dogter doodgemaak omdat sy “op my laaste knoppie geduk het” en omdat sy oneerbiedig was.
Stacy Pagli het, nadat sy haar dogter verwurg het, probeer om selfmoord te pleeg deur haar pols te sny en haar aan ‘n deurknop op te hang. Terwyl sy in die tronk was, het sy probeer selfmoord pleeg deur sokkies om haar nek te bind.
Pagli het berou uitgespreek. Sy het aan die polisie gesê: “Ek wens ek kon dit terugneem, maar ek kan nie. Ek kan dit nie beter maak nie.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP