Vrou wat burka dra kry boete
2011-04-12 17:00
Versailles – Franse polisie het ‘n boete aan ‘n vrou, wat ‘n vollengte-gesigsluier gedra het, uitgeskryf, het ‘n polisiebron Dinsdag gesê.
Die vrou het Maandag die boete ontvang. Dit was die eerste dag waarop die nuwe wet in werking getree het.
Die jong vrou, wat in 1983 gebore is, het ‘n boete van €150 (sowat R1 400) ontvang.
Volgens die bron het die vrou die boete Maandagaand in ‘n winkelsentrum in Mureaux, noordwes van Parys, gekry.
Die bron het nie uitgebrei oor wat die vrou gedra het nie.
Frankryk het Maandag die eerste Europese land geword om ‘n verbod op die vollengte-gesigsluier toe te pas.
Minstens twee vroue is dieselfde dag in hegtenis geneem. Hulle het ‘n sluier gedra en teen die verbod betoog.
Die Franse polisie is bevrees dat die wet onmoontlik gaan wees om uit te voer aangesien hulle nie mense mag forseer om die gesigsluier af te haal nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP