Vrou wat aborsiepil sluk, wag op fetus se lot
2011-02-09 20:00
Fort Lupton - ‘n Swanger vrou aan wie ‘n aborsiepil foutiewelik deur ‘n apteker gegee is, beleef nou ‘n pynlike gewag om die lot van haar ongebore kind uit te vind.
‘n Apteek by ‘n Safeway-supermark in Fort Lupton, Colorado, Amerika, het verlede week die dwelm aan Mareena Silva gegee. Die dwelm, wat vir ‘n ander vrou bedoel was, word in chemoterapie gebruik en ook om swangerskappe te beëindig.
Silva, wat ses weke swanger is, het aan KMGH-TV in Denver gesê sy het die pil gesluk en toe die bottel ondersoek nadat sy siek geword het. Sy is in die hospitaal opgeneem.
Dokters meen Silvia kan ‘n miskraam hê of die baba kan geboortedefekte hê.
“Alles wat nou gebeur... dit is baie oorweldigend om te weet ek moet nou by die huis gaan sit en wag,” het Silvia in ‘n onderhoud gesê.
Safeway het aangebied om al Silvia se mediese koste te dek weens die fout met die voorskrif.
Sy het egter gesê die verskoning verander niks nie.
“Jammer is nie goed genoeg nie. Ek gaan vir ‘n lang tyd met hierdie probleem sit."
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP