Vrou vermoor ná sy geboorte skenk aan dogtertjie
2012-01-30 16:59
Koendoez, Afganistan – 'n Afgaanse vrou is deur haar man en skoonma verwurg nadat sy vir die derde keer geboorte geskenk het aan 'n babameisie, het 'n polisiewoordvoerder Maandag gesê.
"Storay, 'n 30-jarige ma van drie, is deur haar man en skoonma in die stad Khanabad, sowat 20 km vanaf die Koendoez-provinsie, verwurg," het Sayed Sarwar Hussaini gesê.
"Haar man het aan haar gesê hy gaan haar doodmaak indien sy weer geboorte skenk aan 'n babameisie."
Die vrou het drie maande gelede aan die babameisie geboorte geskenk.
"Ons het Storay se skoonma gearresteer en is nog op soek na haar man," het Hussaini gesê.
'n Tienermeisie is verlede maand deur die polisie in die provinsie Baghlan gered nadat haar skoonmense haar gemartel en vir ses maande in 'n toilet aangehou het omdat sy geweier het om met ander mans seks te hê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA