Vrou vat aanvaller se penis na polisie
2011-05-30 12:20
Dhaka – ‘n Vrou van Bangladesj het ‘n man se penis gedurende ‘n beweerde poging tot verkragting afgesny en dit na ‘n polisiestasie as bewys geneem.
Die polisie in ‘n afgesonderde deel van Bangladesj het Maandag dié inligting aan AFP bekend gemaak.
Die 40-jarige getroude ma van drie is Saterdagaand aangeval terwyl sy in haar skuur in die Jhalakathi-distrik geslaap het, het beamptes gesê.
“Die dame het sy penis met ‘n mes afgesny terwyl hy haar probeer verkrag het,” het die polisiehoof Abul Khaer aan AFP gesê.
“Sy het die penis in ‘n stuk plastiek toegedraai en dit na die Jhalakathi-polisiestasie as bewys van die misdaad gebring,” het hy vertel.
Die vrou het ‘n klag teen die man gelê. Hy is ‘n 40-jarige getroude pa van vyf kinders.
Sy beskuldig hom van poging tot verkragting en sê hy het haar die afgelope ses maande geteister.
Die verdagte word tans in die hospitaal behandel.
“Ons sal hom in hegtenis neem sodra sy toestand verbeter,” het Khaer gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP