Vrou vas ná sy glo fetusse verkoop
2010-06-22 10:33
Bangkok - 'n Voormalige verpleegster is in hegtenis geneem onder die vermoede dat sy "kindergeeste" verkoop, berig die media in Thailand.
Dít volg ná 14 ingelegde fetusse in 'n verlate huis in die noordoostelike Thailand gevind is.
Die polisie sê Naengnoi Kaan het erken dat sy fetusse by 'n vrou koop wat onwettige aborsies in die Ubon Ratchathani-provinsie uitvoer om as "kindergeeste", wat glo geluk bring, te verkoop, berig die Bangkok Post.
Die huis waarin die fetusse gevind is, behoort aan een van Naengnoi se familielede.
Die polisie het gesê die verpleegster het glo die fetusse in die huis gestoor terwyl sy vir bestellings van voornemende klante gewag het.
"Kindergeeste," volgens Thaise bygelowe, kan mense help om die lotery te wen.
Volg Nuus24 op Twitter
- AP