Vrou tel antraks op by tromsirkel
2009-12-30 05:50
New Hampshire - ‘n Vrou by wie antraks van die maagderm gediagnoseer is, het waarskynlik die spore tydens ‘n hewige getrommel ingeasem, meen gesondheidsdeskundiges in die VSA.
Owerhede het dit nog nie bevestig nie, maar vermoed dat die vrou die siekte tydens ‘n tromsirkel by die Campus Ministry-sentrum in Durham opgetel het.
Sy het kort na die geleentheid siek geword.
Ondersoek is ingestel en die sentrum is gesluit nadat antraksspore op twee van die tromme gevind is.
Die tromme is van hout en leer gemaak en word ingevoer uit Afrika.
Antraksspore is ook op ‘n kragprop gevind.
Sowat 80 mense, insluitend die 60 mense wat deel uitgemaak het van die tromsirkel, het antibiotika en antraks-teenmiddels ontvang.
- Sapa