Vrou steel baba uit hospitaal
2011-11-09 12:19
Hanoi – ‘n Vrou wat erken het dat sy ‘n babaseuntjie uit ‘n hospitaal in Hanoi gesteel het, het aan die polisie gesê dat sy dit gedoen het om haar man te paai deur voor te gee dat dit haar eie baba is, het plaaslike media Woensdag berig.
Die polisie het die 29-jarige Nguyen Thi Le Dinsdag in Hanoi in hegtenis geneem, het die Tuoi Tre-koerant berig.
Sy is daarvan aangekla dat sy die baba, wat ten tyde van die voorval twee dae oud was, verlede Donderdag van sy ma, Tran Thi Thom, 34, ontvoer het.
Sy het haarself glo as ‘n verpleegster vermom en het gesê sy neem die baba vir ‘n bloedtoets.
Volgens die verslag het Le aan die polisie gesê dat sy die kind gesteel het nadat haar baba op 25 Oktober doodgebore is.
Le was bang vir haar man se reaksie en het aan hom gesê dat sy geboorte geskenk het aan ‘n babaseuntjie.
Nadat sy ‘n verpleegster-uniform van ‘n wasgoedlyn gesteel het, het Le die ontvoerde baba na haar man se familie in die stad se Dong Anh-distrik geneem en voorgegee dat dit haar baba is.
Die hospitaal het die polisie in kennis gestel, wat haar opgespoor het deur ‘n wenk van die taxibestuurder wat haar huis toe geneem het.
Die baba was gesond en in ‘n goeie toestand toe hy gevind is en is Dinsdag met sy ma herenig, het die berig gesê.
Die staatskoerant Viet Nam News het gesê Thom en haar man beplan nie om aanklagte teen die hospitaal te lê nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA