Vrou spring van 23ste verdieping, oorleef
2011-01-25 15:52
Buenos Aires – ‘n Vrou het van die 23ste verdieping van ‘n hotel in Buenos Aires afgespring en oorleef, het ooggetuies gesê.
Die vrou het in ‘n sittende posisie op die dak van ‘n taxi beland. Die bestuurder het uit die voertuig geklim voordat die impak sy dak ingeduik en sy ruite gebreek het.
Die 30-jarige Argentynse vrou is na ‘n hospitaal gejaag waar sy vir beserings soos interne bloeding en gebreekte heupe en ribbes operasies ondergaan het, het Alberto Crescenti, direkteur van Argentinië se nood-mediese sisteem, aan die nuusagentskap Telam gesê.
Crescenti skat dat die vrou amper 100m ver geval het.
Die taxi-bestuurder, Miguel Cajal, het aan C5N gesê hy het uit sy motor gespring omdat ‘n polisieman verkeer gestop en opgekyk het.
Die bestuurderskant van die motor is oomblikke later deur die vrou se liggaam verniel.
Juan Carlos Candame, ‘n ander taxi-bestuurder, het aan AP vertel dat die vrou oor ‘n reling geklim en op die rand van die gebou gestaan het. Sy het iets vir iemand gesê voordat sy gespring het, het hy gesê.
Die vrou het van die Crown Plaza Panamericano-hotel se boonste verdieping afgespring.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP