Vrou se derde skrikkeljaar-baba gebore
2012-03-02 09:06
Provo, Utah – 'n Amerikaanse vrou het op 'n derde agtereenvolgende skrikkeldag geboorte geskenk en deel nou dié rekord met 'n Noorweegse gesin wat in die 1960's ook op skrikkeldag aan drie babas geboorte geskenk het.
David en Louise Estes se dogter Jade is Woensdagoggend in Provo, Utah gebore. Vier jaar nadat hul seun Remington op 29 Februarie 2008 gebore is en agt jaar nadat hul seun Xavier op 29 Februarie 2004 gebore is.
Baba Jade was reeds vyf dae oor haar verwagte datum toe dokters medikasie aan Louise gee om te kraam.
Die enigste ander geval waar drie babas op skrikkeldag gebore is, is in die Henriksen-gesin in Noorweë.
Volgens die Guinness World Records was hul geboortes in 1960, 1964 en 1968.
Die Estes-gesin, wat ook twee ander kinders het, wat nie op dié spesiale dag gebore is nie, sê hulle probeer om elke jaar, wat nie 'n skrikkeljaar is nie, 'n groot fees teen einde Februarie of aan die begin van Maart te hou.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP