Vrou pleeg selfmoord ná verkragting
2012-12-28 07:45
Amritsar, Indië – 'n Sewentienjarige meisie, wat deur 'n bende verkrag is, het selfmoord gepleeg nadat die polisie druk op haar geplaas het om die saak te laat vaar en met een van haar aanvallers te trou, het die polisie en 'n familielid Donderdag gesê.
Ten spyte van die onlangse betogings oor die verkragting van 'n student op 'n bus in Nieu-Delhi vroeër vandeesmaand, het die jongste voorval weereens bewys hoe die polisie seksmisdade hanteer.
'n Polisiebeampte is afgedank en 'n ander een is geskors oor hoe hulle die verkragting, wat op 13 November in die Patiala-streek plaasgevind het, gehanteer het.
Die tiener is Woensdagaand dood gevind nadat sy gif gedrink het.
Inspekteur-generaal Paramjit Singh Gill het gesê die tiener het probeer om 'n saak te maak maar beamptes het daarin versuim om 'n formele ondersoek te doen.
"Een van die beamptes het haar probeer oortuig om die saak te laat vaar," het Gill, polisiehoof vir die Patalia-omgewing, aan AFP gesê.
Voor haar dood was niemand in verband met haar saak in hegtenis geneem nie hoewel drie mense Donderdag aangekeer is. Twee van hulle was haar beweerde aanvallers terwyl die derde persoon, 'n vrou, 'n medepligtige was.
Die slagoffer se suster het gesê die tiener is aangemoedig om óf kontant te aanvaar óf met een van haar aanvallers te trou.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP