'Konstabel, my sneeuman is gesteel'
2010-12-06 09:26
Die Burger
Londen – ’n Britse vrou wat die polisie se noodnommer gebel het omdat haar spesiale sneeuman verdwyn het, is oor die vingers getik.
Die polisie in Kent het gesê die vrou van Chatham was “heeltemal onverantwoordelik”, omdat hulle tans duisende oproepe van mense in nood ontvang weens swaar sneeuneerslae, het BBC News berig.
“Daar was ’n diefstal buite my huis,” het die vrou in haar noodoproep gesê. “Ek was die afgelope vyf uur nie buite om na hom te kyk nie en toe ek uitgaan om te rook, is hy weg”.
Toe die polisie vra wie is weg, het sy geantwoord: “My sneeuman. Ek het gedink met dié wat dit so ysig is en niemand wat buite is nie, sal hy veilig wees.”
“Is dit ’n ornament?” het die polisie gevra.
“Nee, ’n sneeuman van sneeu. Ek het hom self gemaak.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger