Vrou kry rotgif in plaas van kerrie
2010-03-05 10:19
Hanoi – Sowat 25 mense is Donderdagaand in die suide van Viëtnam in die hospitaal opgeneem nadat die eienaar van ‘n winkel per abuis rotgif aan ‘n vrou verkoop het in plaas van kerrie.
‘n Plaaslike dokter het Vrydag gesê dat die eienaar van die onderneming die gif verkeerdelik vir kerrie aangesien het. Die vrou het daarna ‘n feesmaal vir haar gesin voorberei en hulle het almal dodelik siek geword.
Volgens Pham Thi Hanh, direkteur van die Hoa Thanh Distrik-hospitaal, sterk die slagoffers goed aan maar is hulle lewens nog nie buite gevaar nie.
“Hulle gooi steeds op, het hoofpyn en is lighoofdig,” het Hanh gesê.
“Ons weet nie of hulle dit gaan maak nie. Mense wat rotgif eet sterf gewoonlik na sowat drie dae.”
Na bewering het Pham Thi Nho (53) na haar plaaslike groentewinkel gegaan op speserye te koop vir ‘n hoendergereg toe die eienaar per abuis die rotgif aan haar gegee het in plaas van die kerrie. Beide produkte se verpakking is glo byna identies.
-Sapa, dpa