Vrou klim Everest twee keer in een seisoen uit
2013-02-25 16:46
Katmandoe – ‘n Klimmer van Nepal het die eerste vrou geword om berg Everest twee keer in een seisoen uit te klim, het Guinness World Records gesê.
Sy het slegs dae nadat sy die hoogste berg in die wêreld uitgeklim het, die tog weer suksesvol aangepak.
Chhurim Sherpa (29) het op 12 Mei 2012 die toppunt van die 848 meter hoë piek bereik voordat sy teruggekeer het na die basiskamp. Een week later het sy die berg weer uitgeklim.
“Ek is baie bly oor hierdie erkenning. Ek was vasbeslote dat die rekord deur ‘n Nepalese vrou gehou moet word en ek is trots om die een te wees,” het Sherpa gesê.
‘n Ander vou wat ook 'n Sherpa was, Pasang Lhamu, is dood terwyl sy by die berg afgeklim het nadat sy die eerste Nepalese vrou geword het om in 1993 die toppunt van die berg te bereik.
Altesaam 21 Nepalese vroue het die tog ná haar aangepak, maar geen vroulike klimmer in die wêreld kon ooit voor Chhurim Sherpa daarin slaag om die berg twee keer in een seisoen uit te klim nie.
“Om Everest uit te klim is baie moeilik vir vroue soos ek, want daar is geen toilette nie. Vyf van ons moes ‘n tent deel,” het sy aan verslaggewers by ‘n seremonie in die hoofstad Katmandoe gesê.
Sowat 3 000 mense het die toppunt van Everest bereik nadat Edmund Hillary en Tenzing Norgay die toppunt vir die eerste keer in 1953 bereik het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP