Vrou in bikini in Dubai vasgetrek
2010-08-06 03:18
Dubai – ‘n Britse vrou het haar klere uitgetrek en slegs in haar bikini in ‘n spoggerige winkelsentrum in Dubai gestap nadat ‘n Emirati-vrou, wat van kop tot tone in swart geklee was, die vrou oor haar lae hals gekonfronteer het, het die polisie Donderdag gesê.
Sekuriteit van die winkelsentrum het beide vroue Woensdag na ‘n polisiestasie geneem vir ‘n ondervraging.
Hulle is later in die dag vrygelaat nadat die Emirati-vrou ‘n klag van openbare onsedelikheid teen die Brit ingedien het, het ‘n polisie-beampte gesê.
Die Britse vrou was glo besig om inkopies in die vyfster winkelsentrum te doen toe die Emirati-vrou haar gekonfronteer en gekritiseer het oor haar kleredrag.
Sy het gesê dat dit die konserwatiewe kleredrag wat deur meeste van die vroue in dié Moslamland gedra word onteer.
Die twee het geargumenteer, waarna die Brit haar klere uitgetrek en slegs in haar bikini deur die spoggerige sentrum geloop het.
Daar is glo tekens in die winkelsentrum wat mense vra om behoorlik aan te trek, alhoewel Westerse toeriste gereeld die versoek ignoreer.
Volg Nuus24 op Twitter
- AP