Vrou dagvaar dokter oor spons in haar maag
2011-08-01 17:24
Sydney – ‘n Australiese vrou wat vir meer as vyftien jaar
met ‘n lemoen-grootte spons in haar geleef het nadat sy ‘n operasie aan haar
maag gehad het, beplan om haar dokter vir nalatigheid te dagvaar.
Helen O'Hagan beweer die spons is deur dr. Samuel Sakker in haar
buik gelos tydens die verwydering van haar dikderm in 1992, het die Sydney
Morning Herald berig.
Sy ly sedertdien onder meer aan krampe en koors, maar het dit
toegeskryf aan die gesondheidsprobleme wat haar aanvanklik in die hospitaal
laat beland het.
O’Hagan het die spons in 2007 ontdek toe sy vir X-strale gegaan
het.
Die spons “is in vloeistofsakkie met digte veselagtige
vergroeïngs omsluit,” het die Herald berig. Dit is op dieselfde dag wat dit ontdek is, deur ‘n
ander chirurg verwyder.
O’Hagan moes eers wettiglik toestemming kry om Sakker te
dagvaar nadat hy daarop aangedring het dat die saak laat vaar moet word omdat
sy so lank gewag het om hom te dagvaar.
Regter Leonard Levy het egter gevind dat O’Hagan se aandag afgetrek
was deur haar gesondheidsprobleme nadat sy 23 keer sedert 1970 gehospitaliseer
is en dat sy daarom nie onmiddellik antwoorde gesoek het oor hoe die spons in
haar buik gekom het nie.
Die hofsaak begin hierdie week.
– Volg Nuus24 op
Twitter.
- AFP