Vrou (75) sny twee lande se internet af
2011-04-07 08:11
Tbilisi – ’n Vrou (75) het eiehandig twee lande se internetverbinding afgesny toe sy skrootmetaal gesoek het, het Georgië se departement van binnelandse sake Woensdag gesê.
Die pensioentrekker het verlede Maandag vir skrootmetaal gegrawe toe sy ’n optieseveselkabel raakgespit het wat tussen Georgië en Armenië loop. Derduisende internetgebruikers in albei lande het ure lank geen internettoegang gehad nie.
“Sy het deur die kabel gesny om dit te probeer steel,” het Zura Gvenetadze, ’n departementele woordvoerder, gesê.
Die vrou is in die dorpie Ksani in hegtenis geneem en van opsetlike saakbeskadiging aangekla. Sy kan tot drie jaar tronkstraf opgelê word as sy skuldig bevind word.
“Ons het haar ouderdom in ag geneem en haar vrygelaat hangende die uitslag van die ondersoek en daaropvolgende verhoor,” het Gvenetadze gesê.
Baie Georgiërs se internetverbindings is ook in 2009 ’n rukkie lank afgesny toe ’n ander skrootmetaalsoeker die kabel beskadig het.
- Die Burger