Vrese voor 2010
2009-12-31 16:41
Sydney – Partytjiegangers oor die hele wêreld het reeds begin om die nuwe jaar te vier, maar ‘n terrorisme-waarskuwing in Bali en skietery in Finland is besig om die gees te demp.
Die polisie in verskeie lande is reeds op hulle hoede nadat ‘n Nigeriese man 'n Amerikaanse passasiersvliegtuig op Kersdag wou opblaas. En nou het die Amerikaanse ambassade in Indonesië bevestig dat hulle gewaarsku is oor ‘n moontlike aanval op Bali.
In Helsinki is vyf mense dood nadat ‘n 43-jarige verdagte op hulle losgebrand het in ‘n winkelsentrum. Hierdie is die derde keer dat so ‘n skietery die afgelope twee jaar in Finland plaasvind.
Ten spyte hiervan het Nieu-Seeland reeds 2010 gevier met vuurwerke wat die hemele verlig het. Auckland was een van die eerste groot stede in die wêreld om hulle nuwe jaar te vier.
Vir die internasionale troepe in Afganistan was die Nuwejaarsvieringe niks spesiaal nie en het hulle operasie onversteurd voortgegaan. Twee dodelike Taliban-aanvalle hier het onlangs die lewens van agt Amerikaanse en vyf Kanadese soldate geëis.
Sowat 1.5 miljoen mense in Australië het 2010 gevier met ‘n vuurwerkvertoning by die hawe in Sydney.
- AFP