Vrese van onluste by Notting Hill-karnaval
2011-08-26 21:59
Londen – Die polisie sal op hul hoede wees by die naweek se Notting Hill-karnaval in Londen ná vrese opgevlam het dat dié gewilde fees deur oproerigheid bederf kan word.
Daar bestaan vrese dat die fees – Europa se grootste straatfees – deur ‘n herhaling van vandeesmaand se verwoestende onluste geskend kan word.
Miljoene inwoners en toeriste woon die jaarlikse fees by om na vlotte, wat in die weste van Londen beweeg, te kyk.
Die onlangse onluste wat in Londen en ander Britse stede plaasgevind het, het byna vanjaar se feestelikhede gekanselleer.
Altesaam vyf mense is dood in die gepaardgaande geweld wat op 6 Augustus in Tottenham, Londen, uitgebreek het en na ander stede versprei het.
Die polisie het meer as 2 000 mense in Londen in hegtenis geneem in verband met die geweld.
Kommentators het gedink die fees sal beslis gekanselleer word aangesien die Notting Hill-karnaval ‘n reputasie het om moeilikheidmakers te lok.
Die organiseerders het egter besluit om voort te gaan met die fees.
Daar word berig dat 6 500 polisiebeamptes Maandag die gebied sal patrolleer, terwyl honderde ekstra polisielede Sondag aan diens sal wees.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP