Vreemdes hou bed warm tot jy kom slaap
2010-01-21 12:23
Anesca Smith
Londen – Met die kwik steeds rondom vriespunt in Brittanje troef ’n hotelgroep die koue met menslike Klaas Vakies wat gaste se beddens warm lê.
Voordat jy tussen die lakens inklim, kan jy versoek dat een van die personeellede eers in jou bed gaan lê om dit warm te maak.
Die Holiday Inn bied dié diens vandeesweek in drie van sy hotelle in Engeland aan. As dit suksesvol is, sal dit na sy ander hotelle uitgebrei word.
’n Woordvoerder van die hotelgroep, Jane Bednall, het gesê dis soos om ’n “reuse-warmwatersak” in jou bed te hê. “Dit verseker dat ons gaste ’n goeie nagrus kry.”
Die menslike verwarmers is van kop tot tone in ’n spesiaal ontwerpte slaappak gekleed wat verseker die lakens word ekstra warm. Volgens Bednall maak hulle seker dat hulle uit die bed spring voordat die gaste inklim. Die verwarmingsproses duur sowat vyf minute.
Volgens nog ’n woordvoerder, Pippa Mass, het Holiday Inn die afgelope week reeds ’n paar versoeke vir die diens gekry. Dit word by die groep se hotelle in Kensington, Kingston-Suid en Manchester Central Park aangebied en is vandeesweek tussen 21:00 en 23:00 beskikbaar.
Dr. Chris Idzikowski, direkteur van die Edinburg-slaapsentrum in Skotland, het die hotelgroep raad gegee oor die bedverwarmingsproses.
Volgens hom help ’n warm bed, van tussen 20° C en 24° C, beslis om ’n mens gouer aan die slaap te kry terwyl ’n koue bed tot slaaploosheid kan lei.
“Hierdie diens sal help verseker dat mense voldoende rus kry, veral omdat dit veel langer duur voordat hulle warm word as hulle uit die sneeu- en ysweer kom.”
Temperature van so laag as -20° C teister Brittanje – en die res van Europa – reeds sedert voor Kersfees met ongewoon hoë sneeuval oor die hele land.
- Beeld